Ontmoet die Front Nasionaal Verkiesing Kandidate

Daniël Lötter

'n Foto van die Nasionale leier van Front Nasionaal SA Daniel Lotter

Daniël is van Stellenbosch in die Wes-Kaap. Hy is 45 jaar oud en is ‘n akademikus / historikus van beroep in die van kommunikasiekunde en Geskiedenis. Hy is gekwalifiseerd in die Teologie, opvoedkunde en kommunikasiekunde en kom uit ‘n agtergrond van uitsaaiwese, TV en radio aanbiedinge en gedrukte media. Daniël kom uit ‘n polities aktiewe familie waarvan een oupa ‘n Kaapse rebel was en die ander ‘n leiersfiguur in die Nasionale Party tot 1977. Hy is reeds sedert skooldae betrokke in die politiek as Suid-Kaapse Jeugleier van die eertydse KP. Na ‘n onderbreking van politieke aktiwiteite vir ‘n langdurige verbly in Europa, raak hy betrokke by Front Nasionaal in Julie 2014 (pas na stigting), aanvanklik as Wes-Kaapse leier. Sedert Julie 2014 is hy die Skakelhoof en Hoof Woordvorder van die Party en word in Desember 2018 aangewys as Nasionale Leier.

Jurg Prinsloo

'n Swart en wit foto van Advokaat JUrg Prinsloo, die operasionele hoof van Front Nasionaal

Adv Jurg Prinsloo SC (BJuris, LLB, LLM) is die nommer 2 kandidaat vir Front Nasionaal op ons nasionale kandidatelys. Jurg is 67 jaar oud, getroud met Sandra en woon in Florida. Jurg is ‘n praktiserende senior advokaat wat verskeie kere reeds waargeneem het as regter in die Hooggeregshof. Hy was ‘n stigterslid van die Konserwatiewe Party in 1982 en het gedien as Volksraadlid vir Roodepoort vanaf 1987 tot 1994. Van 1992 tot 1994 was hy die woordvoerder oor Justisie van die amptelike opposisie en tree op as beskermheer van die KP Jeug. In die ooreenstemmende periode tree hy op as voorsitter van die Beplanningskomitee van die KP wat oa die Afrikaner Volksfront ontwerp en konstitueer in 1993. Jurg is skrywer van die grondwet en beleidsmanifes van Front Nasionaal

Jaco De La Rey

Jaco is 45 jaar oud en woon in Centurion saam met sy vrou, Melanie en het vier kinders. Jaco het die grade BCOM Rekeningkunde en BTECH interne oudit onderskeidelik by RAU en Technikon SA studeer, daarna verder in regte by RAU en Kovsies. Hy kom uit ‘n polities aktiewe huishouding met ‘n Oupa wat parlementslid was en ‘n Pa wat ‘n plaaslike raadslid was en ‘n Oupagrootjie wat ‘n Boeregeneraal was. Jaco is tans ‘n sakeman van beroep. Hy is tans die tesourier van Front Nasionaal. Hy is ons nommer drie kandidaat op die kandidatelys.

Francois Cloete

Francois woon in Centurion en is 30 jaar oud. Hy is ‘n Finansiële Rekenmeester van beroep. Tydens sy studentejare was hy ‘n studenteleier van die VF+ Jeug en was sedert die stigting van Front Nasionaal Jeugleier, Woordvoerder en uiteindelik Tesourier van die Party. Hy is tans die nomme vier kandidaat op die kandidatelys vir die nasionale verkiesing

Jannie Kühn

Jannie is van die Noord Kaap en woon naby Upington. Hy is getroud met Elna en is 65 jaar oud. Voor sy aftrede was hy vir baie jare betrokke in die konstruksiebedryf en mynwese as vakman en opleidingsinstrukteur aan, onder andere die UOVS. Jannie is lewenslank betrokke in die politiek en dien sedert Maart 2017 as onderleier van Front Nasionaal. Hy het waargeneem as leier vir die periode van Januarie tot Desember 2018.

Willie Cloete

Willie is van Pretoria. Hy verwerf ‘n Bcom graad in besigheid bestuur aan UNISA asook senior Bestuur Sertifikaat aan Tukkies. Hy spesialiseer al vir baie jare as arbeidsdeskundige en is ook in die sake wêreld betrokke. Willie is lewenslank betrokke in die politiek en is ‘n stigterslid van Front Nasionaal. Hy is ook die voormalige leier van NKP. Hy was polities aktief en betrokke in die KP en VF+. Willie is getroud met Elize en is die Pa van twee seuns. Hy is 62 jaar oud.

Henry White

Henry is die takvoorsitter van FN Centurion. Hy is reeds geruime tyd baie betrokke by Front Nasionaal en is ‘n bekende in sy omgewing. Henry is getroud met Grizelda en die Pa van ‘n seun en dogter, wat albei ook ten nouste betrokke is by ons Volk se sake, veral noodleniging en armoedeverligting. Henry is ‘n besigheidsanalis en sakeman van beroep.

Gideon la Grange

Gideon is 57 jaar oud en woon in Mosselbaai. Hy is getroud met Esmarie en is die Pa van ‘n seun en ‘n dogter. Gideon is ‘n sakeman wat bekend is in die konstruksiebedryf en was ‘n vryskut radio-aanbieder by ‘n plaaslike uitsaaier vir ‘n geruime tyd, voordat hy besluit het om terug te keer na die politiek. Hy is ervare in die politieke wêreld en was vantevore ‘n verkiesingskandidaat in vorige verkiesings.

Jurgens Weber

Jurgens is ‘n finansiële bestuurs- en behuisingsdeskundige van beroep. Hy werk ook tans vir een van die vier groot handelsbanke. Jurgens is al vir baie lank betrokke by Front Nasionaal, is geinteresseerd in politiek en voltooi eersdaags die graad BCom Regte aan die Universiteit van SA. Hy is getroud en die pa van twee kinders. Jurgens is van Boksburg aan die Oos Rand.

Engela vd Heever

Engela is die Hoof Uitvoerende Beampte van Volksteun SA. Sy is reeds vir dia laaste aantal jare die dryfkrag agter Front Nasionaal se landwye uitreik na volksgenote in nood. Onder haar leiding is voedsel, klere, behuising en werksgeleenthede voorsien aan volksgenote in nood en is honderde mense daardeur weer op die bene gehelp. Engela is Ma en Ouma, sy is 65 jaar oud en getroud met Johann. Engela is van Rayton.

Chris van Niekerk

Chris is van die Kaapse Wynlande en is ‘n verteenwoordiger vir ‘n maatskappy wat huisbeveiligning doen. Hy is ook ‘n pastoor wat reeds ‘n aantal gemeentes in onder meer die Oos Kaap bedien het en was vir ‘n lang periode ook verbonde aan die voormalige Suid Afrikaanse Weermag. Chris was vantevore ‘n kandidaat vir die ACDP en is tans die takvoorsitter van die FN tak in Hugenote Vallei. Hy is 57 jaar oud.

Catryn Bosman

Catryn word in konserwatiewe kringe beskou as die deskundige op die gebied van selfbeskikking. Sedert haar aftrede woon sy op Richardsbaai, waar sy reeds vir ‘n hele aantal jare intensief navorsing doen doen oor selfbeskikkingsprosesse en modelle wêreldwyd. Sy het dan ook by meer as een geleentheid persoonlik ondersoek gaan instel na die praktiese toepassing van Selfbeskikking en dien vir jare reeds as ‘n adviseur vir Front Nasionaal hieroor. Sy is 63 jaar oud.

Elaine Oosthuizen

Elaine is ‘n sakevrou en tuisteskepper van Jeffreysbaai in die Oos Kaap. Sy is ‘n ervare politieke aktivis wat onlangs haar gewig ingegooi het by Front Nasionaal en is besig om die Oos Kaapse Afrikaners )en ‘n hele klomp Engelssprekende volksgenote) aan te keer! Elaine is die stigter en voorsitter van die Front Nasionaal tak in Jeffreysbaai. Elaine is 52 jaar oud.

Ada Esplin

Ada woon in Kaapstad se Noordelike voorstede en het tans haar eie sakeonderneming. Sy is 60 jaar oud, die Ma van ‘n seun en drie dogters wat ‘n tweeling insluit. Sy’t aan US ‘n BSC Wiskunde en Wiskundige Statistiek graad behaal waarna sy die privaatsektor betree het. Sy is ‘n deskundige op die gebied van hoofraamrekenaars en het vir jare wêreldwyd opleiding aangebied in die gebruik daarvan. Sy is besonder aktief in haar gemeenskap en is die voorsitter van die Front Nasionaal tak in die Noordelike voorstede van Kaapstad.

Naomi van der Kolff

Naomi is 34 jaar oud en ‘n sakevrou van beroep. Sy is ‘n deskundige op die gebied van beveiliging en sekuriteit en ‘n leidende figuur in beveiligingsorganisasies in haar omgewing. Sy is ‘n bekende figuur in die kontrei van Swellendam en die Overberg en is die takvoorsitter van Front Nasionaal se tak daar.