'n Foto van 'n 1991 Huisgenoot artikel wat lees: Hoe gaan ons leef in die nuwe Suid Afrika

DIE WYSHEID VAN DIE OOMBLIK IS DIE DWAASHEID VAN DIE UUR…

Dit was die gedagte wat deur my kop gegaan het toe ek gisteraand afkom op ‘n Huisgenoot van 14 Februarie 1991, waarin Marieta Roos ‘n paar “kenners” se mening gevra het oor hoe die Nuwe Suid-Afrika sal lyk. Terugskouend is dit ooglopend hoedat Naspers se publikasies destyds al probeer het om die pad van De Klerk en Mandela aan ons te verkoop – en daarin geslaag het.

Van die kundiges wat voorspellings gewaag het was dit net professor Willem Kleynhans wat naastenby in die kol was met sy kommer oor swart toestroming na die stede en die verval van woonbuurtes. Prof Kleynhans sê reguit: “Daar is lank met die regte van gekleurdes gesloer. Nou word die sluise meteens oopgetrek, die waters van verandering spoel oor Suid-Afrika en ons is onvoorbereid op die situasie.”

Dr Nic Rhoodie, destyds Programleier by die Sentrum van Konflikanalise van die RGN, se voorspellings was so ver uit die kol dat ‘n mens kan lag daarvoor. Onder andere voorspel hy dat daar geen begeerte by swartes sal wees om by blanke skole in te skryf nie. “Soort soek mos soort” was sy woorde. Oor hierdie onderwerp voorspel mnr Perfect Malimela, ‘n Menslike Hulpbronkonsultant, dat geen regering ooit enige skole sal dwing om hulle deure “oop te stel” nie.

Binne slegs 5 jaar gebeur toe presies dit!

Van Rhoodie se ander voorspellings was dat die aanvraag na huise in blanke woonbuurte deur meer gegoede swartes die eiendomspryse sal opstoot en dat swartes wat sulke huise kan bekostig, reeds sodanig verwesters het dat daar geen rassekonflik behoort te wees nie. Clem Sunter, destyds van Anglo American, sê hy kan nie sien dat standaarde in woonbuurte gaan daal nie. As alle gemeenskappe ‘n ekonomiese groeikoers van 15% handhaaf, dan sal dit ‘n stabiele samelewing verseker. En in so ‘n samelewing sal daar geen rassekonflik wees nie.

Sunter het natuurlik nooit gedink daaraan dat die meerderheid agteroor gaan neerslaan en wag vir die staatstoelaag wat deur blanke belastingbetalers opgedok sal moet word nie!

Oor landbougrond het Rhoodie ook die pot lelik mis gesit. Die vraag was: “Wat sal gebeur as miljoene hektaar landbougrond onteien word soos wat nou in Zimbabwe gebeur?” Daarop was Rhoodie se antwoord: “Ek twyfel of dit hier sal gebeur. Selfs nie onder ‘n swart meerderheidsregering nie, want ons is darem 5 mijoen blankes in die land en as invloedryke belangegroep het ons meer mag as die destydse Rhodesiërs.”

Dr Rhoodie se naiewe voorspellings trek hy selfs verder deur te voorspel dat die meerderheid kleurlinge, Indiërs, die Nasionale Party en die IVP ‘n koalisie sal vorm en die politieke mag in die land verkry!

In’t kort – dieselfde naiewe analyses van deskundiges wat destyds hierdie klomp twak geroggel het, kry ons vandag nog by dié wat die multikulturele nonsens nog steeds sit en versmous.

Tragies genoeg is daar nog steeds blankes wat dié “profete” sien tuimel het, maar hulle profesieë vandag nog aanhang wanneer dit uit die monde van Ramaphosa, Maimane en Lekota kom.

Die wêreld van 1991 lyk vandag vir ons ver en vreemd…om te dink dat ons hierdie goed geglo het!

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.