'n Voorblad foto van die Volksblad op Donderdag 8 September 1966 met Dr Verwoerd se moordenaar, asook die dolk wat hy gebruik het op die voorblad

NET NA TWEE DIE DINSDAGMIDDAG…

Om twee-uur op daardie Dinsdag van 6 September 1966 (vandag 52 jaar gelede) begin die klokkies lui vir die Volksraadsitting. Op die balkon neem die tengerige figuurtjie van die Eerste Minister se vrou haar plek in tussen twee Ministersvroue – Hobbie le Roux en Tinie Vorster. Sy kyk af op die Volksraadskamer waar haar man sy plek in die Eerste Minister se bank inneem en sy toespraak oopvou om weer deur te lees.

Pas na twee is daar ‘n gemaal by die deur. Dis ‘n bode wat, effens soekend en rondkykend, vassteek reg voor die Parlementslede wat besig is om die Raadsaal binne te kom. Die man vroetel onder sy klere, sodat die Parlementslid agter hom vir ‘n oomblik oorweeg om hom aan te spreek daaroor.

Dan stap die bode met afgemete tree en swaai meteens uit die gang weg na die bank waarin die Eerste Minister sit. Hy buk oor die bank.

Dr Verwoerd kyk op, glimlag en lig sy hand. Hy dink waarskynlik die bode het gestruikel en hy wil help dat die man nie val nie.

Vier maal tref die dolk…

Die Volksraad se klokkies lui nog, maar die pandemonium in die Raadsaal verdoof dit. Een of twee Parlementslede, mediese dokters, storm op die bank af terwyl die tengerige vroutjie na benede hardloop en probeer om haar pad oop te druk in die gemaal rondom die bank. Hulle is reeds op pad met hom na buite, die ambulans van Groote Schuur reeds op pad. Iewers in die agtergrond hoor sy die bulderende stem van PW Botha wat woedend met sy vinger na Helen Suzman beduie en iets skree wat sy nie kan uitmaak nie…

Ds Herman Kinghorn van Malmesbury kom deur die voorportaal van Groote Schuur gestap. Hy het ‘n ouderling van hom besoek. In die portaal keer ‘n welgeklede, rysige vrou hom voor.

“Ek verneem u is ‘n predikant,” sê sy. “Ek is Tinie Vorster. Die Eerste Minister is met ‘n dolk gesteek en ek het pas verneem dat hy oorlede is, maar Mevrou Verwoerd weet dit nog nie. U moet my asseblief nie nou los nie.”

Die geskokte leraar volg die Ministersvrou na die kantoor van die Hospitaalsuperintendent waar Betsie Verwoerd klein en verwese in ‘n groot stoel voor die venster sit. Stadig stap hy nader, kniel langs die stoel en stel homself voor.

“Ek ken u,” antwoord sy. “U was mos my kinders se predikant. Kom u vir my sê dat my man dood is?”

Dominee Kinghorn vind nie sy woorde nie. Hy knik bloot sy kop. Iewers in die agtergond klink ‘n kreet van skok op. Dis Hobbie le Roux wat gryp na iets om aan vas te hou.

Maar van die klein vroutjie in die groot stoel kom daar nie ‘n kreet, of ‘n gebaar van skok nie. Sy sit bloot haar hand op die predikant se skouer en sê saggies: “Dankie Dominee. Wees getroos daaraan: God maak nie foute nie.”

En toe raak dit stil.

Doodstil in die kantoor, stil in die hospitaal en in die Volksraadsaal en in die strate van Kaapstad. En deur die loop van die middag raak dit stil in die strate van dorpe en stede dwarsoor Suid-Afrika. Dit raak stil oor die velde van Suid-Afrika. ‘n Volk raak net stil…

Op die dag van die begrafnis sit twee bejaarde Xhosa-mans in die heuwels van die Amatola. Hulle is besig om ‘n beeld uit klei te vorm. Dis ‘n bonkige beeld wat stoer oor die ryk velde van Xhosaland kyk.

Wanneer die beeld klaar is, sit hulle ‘n hele ruk stil voordat een ‘n pendoring opneem om die voetstuk van die beeld in te graveer.

“Sê my,” vra hy die ander een, “hoe skryf ‘n mens: “Verwoerd’?”

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.